Sessie 7-2 Begripstoetse
Begripstoetse beantwoord:
Begripstoetse kan 'n taal vraestel se punte laat lig of sink. Kom ons kyk hoe jy by die lig kan uitkom en die sink gate vermy.
Weet sommer van die begin af dat daar nie kort paaie is nie en jy lank voor die tyd moet voorberei om goed te kan doen in begripstoetse. 'n Begripstoets gaan oor die verstaan en betekenis van 'n leesstuk. Daar word van jou verwag om dit ordentlik te lees en vrae daaroor te beantwoord. Jy moet dus eers seker maak dat jy verstaan wat in die stuk staan. Wat is die kern van die boodskap?
Begripstoetse verg kennis, vaardigheid in lees en skryf, asook tydsbestuur. Die beste voorbereiding hierin is deur met ou vraestelle te oefen. Jy verskerp daardeur jou lees en skryfvaardigheid, brei jou woordeskat uit en leer om teen tyd te werk. Oefen met ‘n stophorlosie langs jou en druk jouself om so vinnig en effektief moontlik te werk. Dit word lekker as jy sien hoe jy verbeter. Kyk hoeveel tel die toets, hoeveel vrae daar is en werk vinnig uit hoe lank jy aan elke vraag kan spandeer. Jy leer ook die styl van vrae ken en kry ‘n goeie idee wat jy te wagte kan wees.
Studente wat stadig lees, wil gewoonlik die minste oefen. Dissiplineer jouself om elke dag te lees, dis die beste manier om dit vinniger te kry. Lees boeke, tydskrifte, koerante, enige vorm van geskrewe taal. Hou ‘n notaboek byderhand en skryf nuwe woorde en hul betekenisse neer. So oefen jy om vinniger te skryf en jou woordeskat uit te brei. Moenie jou lippe beweeg terwyl jy lees nie, dit maak jou spoed stadiger. Lees met ‘n pen of potlood as plekaanwyser. Outomaties gebruik jy dan jou brein, oë en hand wat leesbegrip baie help. Kom in die gewoonte om sleutelwoorde te omkring sover jy lees. Dit help jou later om nie jou tyd te mors met inligting wat nie belangrik is nie. Fokus as jy lees. Dit verg ook oefening om jou gedagtes by die leesstuk te hou, daarsonder lees jy sonder begrip, jou gedagtes dwaal in drome rond en jy mors net jou eie tyd. Volg die volgende strategie wanneer jy ‘n vraestel beantwoord:
- Kry eers 'n geheel oorsig. Wat is die opskrif? Is daar 'n prent of foto?
Hoeveel vrae is daar?
Lees dan die instruksies bo-aan goed deur.
Hoe moet jy nommer, waar moet jy skryf, ens.
- Lees die stuk 1 x deur met 'n plekaanwyser.
- Lees die vrae 1 x deur. Omkring die sleutelwoorde. (Potlood)
- Lees die stuk weer en omkring die sleutelwoorde. As jy 'n vraag se
antwoord raaklees, skryf die nommer van die vraag daarby. Jy weet nou
wat gevra word, en kan oplet vir antwoorde.
- Lees die vrae een vir een. Lees ORDENTLIK!
- Antwoord in volsinne.
- Kyk hoeveel 'n vraag tel, soveel inligting moet jy gee.
- Let op of 'n vraag twee dele het. Jy moet dan twee antwoorde
- Van die antwoorde staan nie in die stuk nie, jy moet dit self uitdink. Uit
die stuk moet jy afleidings maak om van die antwoorde te gee. Basseer
jou antwoord op die gegewe leidrade en die konteks wat geskets word in
die stuk.
Antwoorde moet pas by die inhoud van die leesstuk. Dit help nie jy gorrel 'n klomp goed uit wat niks met die stuk te doen het nie. Die leesstuk is vir jou gegee met leidrade in wat jou na die antwoord moet lei.
As jy nie seker is oor 'n antwoord nie, skryf jou raaiskoot neer. Merk egter die vraag sodat jy daarna toe kan terugkom en die antwoord kan verander as daar nog tyd is.
Onthou om gereeld jou asem diep in te trek, verby jou keel. Dit help met spanning en jou brein kry meer suurstof.
Dink positief. Waar was jy, en hoe jy al gevorder het. Motiveer jouself. Die vrae pas by die stuk en die antwoorde moet daarin skuil. Die opskrif gee jou ‘n goeie idee wat die hoofgedagte is.
Die feit dat jy hierdie kursus doen, wys jou al klaar dat jy graag wil goed doen en goeie prestasie in die oog het. Byt net vas en hou aan oefen!